Met die hernude belangstelling in eenvoudige organiese kos het die Boeddha-bak weer in die kollig getree. My eerste kennismaking met die besonderse kos kombinasie is te danke die glans sjef Yotam Ottolenghi se buitengewone resepte en die keer toe Rudolf Brand van Amsterdam by ons in die La Creuzette kombuis kom kook het. Ek het die dis my eie gemaak en herdoop met die wonderlike naam: Skepselkos. Ontleen van die woord skep, soos in opskep en dan natuurlik, ons as skepsels van die univers!
Die Boeddhabak is esteties ‘n opwindend gereg om aanmekaar te sit, dis ‘n veelsydige gereg en is doodgewoon heerlik.
Die kleurvolle gereg, ook geken as makrobakke, word in ‘n groot bak saamgestel uit hoofsaaklik graankorrels, rou, pangebraaide en of geroosterde groente; ‘n proteïen, ( heerenboontjies! ) tofu of vis( ek gebruik weskus kreef vir uithang geleenthede vir die wat fleesetend is!). Om af te rond, ‘n paar krakerige sade, ‘n handjievol groen spruite en ‘n hartlike sousie.
Daar is nie een vaste manier om Skepselkos te maak nie, en juis daarin lê die heerlikheid daarvan. Jy ontwerp doodgewoon jou eie bak, vul dit met bestanddele en geure waarvan jy hou. Dink aan uitsonderlike kombinasies, soos dadels en soetpampoen. Wees avontuurlik met jou speserye, kruie, gegeurde rome en selfs ‘n skepseltjie wasabi of mosterd.
Bestanddele:
Vir die lensies:
1 koppie swart Beluga lensies ( Quinoa werk ewe goed)
2 koppies water
Kerker ertjies:
½ koppies gekookte kerker ertjies ( of Heerenbone, swart boontjies)
2 eetlepels olyfolie (soms gebruik ek neut olie)
½ teelepel seesout
½ teelepel gerookte paprika
kurkuma botter of ‘n mespunt gepoeierde organiese borrie
‘n knippie oregano
‘n teelepel chili poeier
Uie smoortjie
3 groot rooi uie
olyfolie en ‘n eetlepel kokosneutbotter( genoeg om die uie stadig te karamelliseer )
8 swart knoffel huisies
1 Koppie fyngekapte sampioene (of gedroog)
Rooi pepersous:
1 groot rooi peper (ontpit)
2 eetlepels Avokado olie( olyf sal doen)
1 suurlemoen se sap
sout en peper na smaak( Gewoonlik ½ teelepel van elk)
Gebakte groente:
1 Groot pienk of geel soetpatat
Vier groot, lang wortels
Sout en peper na smaak
2 groot aartappels
‘n Knippie swart sesam saad
‘n Knippie Oosterse speserye
‘n Stompie gemmer in blokkies gesny(sowat 1 eetlepel)
‘n Halwe koppie lemoensap
Garnering:
Komkommerkruid / bernagie blommetjies, dill blommetjies, enige vars groen spruite , liggies gebraaide dennepitsade( opsioneel - ‘n klein ryp avokadopeer)
Metode:
Kook die swart lensies in 2 koppies water. Ongeveer 15 min( volg instruksies op die houer) haal van hitte af, bedek die pot met deksel, en laat dit in die water vir ongeveer 10 min uitswel.
Nadat die lensies gekook en uitgeswel het, plaas ek hulle gewoonlik in ‘n sif oor ‘n potjie water op die stoof- sodat dit warm bly)
Verhit jou oond tot 180 grade. Meng die kerkererte in ‘n bak met die olyfolie en speserye sodat dit eweredig bedek word met olie( Voeg nog olie by indien nodig). Bedek ‘n bakplaat met bakpapier, sprei die erte op die papier uit en bak vir 15 minute. Toets of die erte sag en gaar is, anders bak nog ‘n rukkie verder.
Karamelliseer die uie wat in fyn ringe gesny is in die olie en botter, voeg die sampioene en swart knoffel en braai oor lae hitte. Sodra die uie en sampioene gedoen is, haal van hitte af, bedek en hou warm.
Vir die peper sous meng al die bestanddele in ‘n kosverwerker tot romerig en glad.
Sny die soet patat, skil en al, in langwerpige skywe, sny die aartappels ook in skyfies. ( skil opsioneel) Bedruip die patat en aartappelskywe met olie en geur met growwe seesout en Oosterse speserye. Plaas die gemmer blokkies saam op die bakplaat- maak seker dat dit ook goed met olie bedek is. Bak vir 20 min teen 180 grade- draai ‘n paar keer om- (gebruik nog olie as dit te droog is) Sprinkel sesaam sade oor aartappels 5 min voordat gaar is.
Sny die wortels lengte langs in dun skywe en plaas met die lemoensap in ‘n bak/oondsakkie en geur met sout en peper. Ek plaas die sakkie gewoonlik saam met die patat en aartappels in die oond vir 20 min teen 180 grade.
Die opsionele avokadopeer kan ook in skywe gesny word, met suurlemoensap bedruip word en met sout en peper gegeur word.
Opdien:
In vier mooi keramiek bakke of erde skottels ( verhit vir koue aande) begin die samestelling van jou Skepsel kos. Die bestanddele gaan in verskillende temperature wees- kous( peper sous, die avokadopeer en natuurlik die garnering)
Verdeel die uie smoortjie in vie eweredige dele en plaas in die middel van die bak, Verdeel die lensies in vier en plaas langs die uie smoortjie.
Skep die kerker ertjies oor die hopie in die bakke. Balanseer een of twee patatskywe op die bergie uie, lensies en kerker erte.
Plaas nou twee of drie wortelrepe diagonaal oor die patatskyf.
As jy avokadopeer gebruik kan dit nou geplaas word. Bedruip die vier bakke met die pepersous, strooi die denesade oor en versier met komkommerkruid blomme, spruite en dill blomme.